Friday, 18 July 2008

wit papier


Daar is iets vreesaanjaend aan ‘n skoon wit papier. Dit verblind jou, dit krap in jou siel,dit maak jou ongemaklik. Die rede hiervoor is omdat die papier wag, hy is in afwagting oor wat ontbloot gaan word. Sal die papier veroorsaak dat nuwe waarhede tot die lig gebring gaan word? Of sal die papier jou diepste geheime ‘n realiteit maak. Ek kry ‘n gevoel van angs as ek die skoonheid van ‘n papier sien, my vingers jeuk en my hart begin vinniger klop. Ek is bang. Bang vir watter sinne al hierdie letters op die sleutelbord voor my gaan vorm, bang vir die prentjies wat die literatuur gaan skep.

Tog begin my vingers ritmies beweeg in ‘n melodie van skepping. Ek is voor ‘n gehoor en almal verstaan die taal van my kreatiwiteit. Ek is in die middel van die vertoning en onbewus van wat die uiteinde gaan wees. Die feit bly staan dat die oomblik myne is, dit is ek en my woorde en niemand kan ons van mekaar skei nie. Ons is in harmonie, dans ritmies saam met metafore, sing saam met alliterasie en voer ‘n gesprek met ironie. Dit is ek en alles in my en die woorde gee vorm aan my siel. Soos wat ek weer bewus word van die wereld rondom ons,skrik ek, my papier is vol letters, die gehoor is stil-wat het ek geskryf?