Monday, 07 December 2009

Dae van denke

Dit gaan nou al vir ‘n paar dae so aan. Ek voel anders in die oggende as wat ek in die aande voel. Dit middae terg my, en stel my voor aan ‘n nuwe resep van lewe. Die skemer glimlag, maar die nag skaterlag. Ek sal eerder in die gelag bly as die oggend wat skree en huil. Die oggend bring waarheid, maar net teenoor dit wat die nag gebeur het. ‘n Nuwe dag kan nie antwoorde gee op die verlede se vrae nie.

Dit is hoekom dit nou al vir ‘n paar dae so aangaan, dit volg nie op mekaar nie, dit soek mekaar op ander plekke. Dit is dan wanneer die self en die son nie goed genoeg is nie, daar word gesoek na gesigte in die donker. Die oe kan dalk vir my antwoord en saam met die maanlig in my siel in loer. Dit is waarna ek smag, na kennis wat die trappies van my siel kan klim, versigtig oor die pyn trap, alles wat uit hulle rakke geval het, terug kan plaas. Die boeke volgens alfabet rangskik, blomme op die tafels sit, en gaste in nooi sonder om bang te wees vir hoe ek lyk.