Wednesday, 14 January 2009

Die plekke tussen my en jou

Ek wou gestraand gaan na die plek wat my laat droom. Hierdie plek is bewus van my bestaan. Hy aanvaar my en my drome. Hy wys vir my die wêreld wanneer dit mooi lyk, wanneer almal slaap. Niemand kan ons pla nie. In hierdie plek sal niemand my onthou of vergeet nie. Dit gaan oor die oomblik,die vryheid. Die ontsnapping. Dit is net ek en hy. As ek weg sou gaan van die plek sou ek weer soos myself voel. Die weergawe waarvan ek hou, nie die een wat almal verwag ek moet wees nie. Die plek grawe diep in my siel, al sit ons in stilte. Hy is versigtig, hy maak nie seer nie. Die plek fluister vir my en skree nooit nie. Ek ken myself by die plek, en ek wou jou ook daarheen vat, maar toe ek daar aankom, het hulle hekke omgesit.

Ek gaan toe na ‘n ander plek, tussen die wêreld. Die wêreld met hulle kakpraat en statuses. Ek hoort nie in julle plek nie. Julle plek sal altyd oop bly om ander wie se hekke wat gesluit is, in te nooi. Sodat ons almal saam kan sit en maak asof ons omgee oor die siel, terwyl ons net die ego’s voer.

Tuesday, 06 January 2009

Net 'n dag

Die Rit:

Die wind waai my gedagtes weg teen 120km/h. Vinniger. Verder.Verdwyn. Die verlede moet agter my bly. Vorentoe is onbekend, maar vorentoe is vinnig. Opsoek na iets om vandag se son spesiaal te maak. Hy mag nie sak voordat hy vir my ‘n geskenk gegee het nie. Die N1 lok my na ‘n industriële bestaan. Die musiek in my are klop, maak asseblief die deur oop-dan weer vinnig toe. Niemand anders as jy mag inkom nie. Voel jy ingeperk? Jy is saam met my vasgevang. Soos ‘n vlieër in die wind, gaan ons op en af, maar meestal af. Vinniger.

Die winkel:

‘n Klein hekkie na ‘n ander wêreld, ‘n wêreld wat al plaasgevind het. Vol geheime. Vol stories. Vol lewens. Bewyse van ‘n tydperk lank vergete. Die stof kruip by my bene op gretig om my in te suig, en deel te maak van die verlede. Hulle wil vir my ook op die rak sit om te verkoop, maar my glimlag verkoop nie my verlede nie. Grys soos die stof, die vrou agter die toonbank. Sy laat die verlede pragtig lyk,duur, sonder geraamtes. Hoekom wil sy dit nogsteeds verkoop? Iemand wou dit nie hê nie, iemand het hulle verlede laat gaan vir iemand anders om te neem. Kan ek dit doen? Die vrou is ernstig tog sag en vroulik. Haar oë probeer my oortuig, saam met die stof wat vir oulaas hul vingertjies uitsteek. Ek ontsnap en is weer in die realistiese hede. Tog het daardie winkeltjie vir my ‘n geskenk gegee.

Die terugkeer:

Oppad terug is alles stadiger. Almal moet terugkeer. Almal se son moet sak. Ek draai my venster af,maar hierdie keer suig die wind my terug. Ek gaan nie meer vorentoe nie. Diegene in die voertuie langs my lyk teleurgesteld. Frustreerde gesigte kyk vorentoe. Was hulle nie vandag weggevoer nie? Was die son hulle nie goedsgesind nie? Dalk is die geskenke net daar vir die wat dit raaksien? Ek het iets gesteel vandag, ‘n gevoel van tydloosheid, by ‘n vrou wie baie meer as ek weet. Dankie son, jy mag maar sak.